Uitnodiging tot ʼn gesprek oor Afrikaans in ʼn internasionale verband

Beste vriend/kollega

Hiermee ’n uitnodiging om deel te neem aan ’n inisiatief wat daarop mik om internasionale Afrikaanse inisiatiewe beter te koördineer. Die doel hiermee is om hierdie inisiatiewe se volhoubaarheid en impak te verhoog en om beter gebruik te maak van beperkte hulpbronne. Een van die reaksies op die behoefte om beter te koördineer, is die stigting van die Internasionale Vereniging vir Afrikaans (IVA), ’n inisiatief waarby Afrikaans Internasionaal sal aansluiting vind.

Daar is op hierdie stadium te min bekend oor Afrikaanse inisiatiewe internasionaal om voordeel uit samewerking en sinergie te kan trek. Daar is tans talle inisiatiewe in verskillende domeine aan die gang (akademiese skakeling, onderwys, kultuur, ens.) wat byvoorbeeld nie optimaal benut word nie. Die redes hiervoor is onder meer moontlike oorvleueling in die projekte en inisiatiewe, ʼn gebrek aan fondse, persoonsgedrewe inisiatiewe, afwisselende en tydelike leierskap, en dies meer. As gevolg hiervan verloor inisiatiewe soms momentum of kom sonder ’n langtermyneffek tot ’n einde. Wat uiteraard ʼn verlies aan tyd en energie is en ook ʼn verkwisting van skaars hulpbronne.

In lig hiervan nooi ons u uit om deel te neem aan die saamstel van ’n inventaris van Afrikaans internasionaal. Watter inisiatiewe word deur watter persone of instansies met watter middele in stand gehou? Wat doen hulle en op watter teikengroepe mik hulle? Tot watter mate word reeds met instellings in Suid-Afrika en Namibië gekoördineer of saamgewerk? En vanselfsprekend ook ander toepaslike vrae. Voltooi asb hierdie vraelys: https://forms.gle/AYt9pa4QRn7iEEFW8

Deur antwoorde op dié en ander vrae te kry, sal dit makliker word om tot voordeel van almal te beplan vir samewerking en sinergie. Gevolglik sal ons die volgende baie waardeer:

  1. Beantwoording van die vraelys oor Afrikaans internasionaal: Die vraelys word as GoogleDocs-dokument saam met hierdie dekbrief uitgestuur. U antwoorde word dus outomaties gestoor. U kan hierdie brief en die vraelys gerus aanstuur aan ander mense wat dalk in hierdie inisiatief sal belangstel. Die spertyd hiervoor is: Vrydag 15 April.
  2. Deelname aan opvolggesprekke: Sodra genoegsame inligting ingesamel is, deel en bespreek ons dit graag met julle as direkte belanghebbers in Afrikaans internasionaal, ’n proses wat deur proff Yves T’Sjoen en Martina Vitackova van die Universiteit Gent gefasiliteer sal word.
  3. Aansluiting by gesprekke in Suid-Afrika en Namibië: Hierna sal ook in gesprek met Suid-Afrikaanse en Namibiese rolspelers getree word (Meer inligting hieroor volg later.)

Ons hoop om reeds in April 2022 in samewerking met julle die gesamentlike prentjie en ’n konsep-makroplan vir Afrikaans in internasionale verband aan julle voor te kan lê. Daarna kan ons saamwerk om die plan te laat realiseer. Ons sien dus uit na u insette!

Vriendelike groete

Conrad Steenkamp

Hoof van die Afrikaanse Taalraad

2018 Jaarvergadering

19 September 2018

Geagte kollegas

Insake: Internasionale Vereniging vir Afrikaans (IVA) jaarvergadering (2018)

Hiermee word u hartlik uitgenooi na die IVA se jaarvergadering. Elke Afrikaansdepartement word vriendelik versoek om ’n verteenwoordiger(s) na die vergadering te stuur.

Die doel van die vergadering is om die vordering wat tot dusver gemaak is en planne vorentoe te bespreek. Verder sal ’n grondwet-werksdokument bespreek word.

Datum: Saterdag, 27 Oktober 2018
Tyd: 09:00
Plek: Nelson Mandela Universiteit (Embizweni-gebou, hoofgebou, vierde vloer, seminaarkamer 0415, Universiteitsweg, Summerstrand, Port Elizabeth)

U word vriendelik versoek om voor of op 5 Oktober 2018 die besonderhede van die persoon / persone wat u departement sal verteenwoordig aan Susann Marais (maraiss@sun.ac.za) te stuur.

U word vriendelik versoek om die volgende inligting deur te stuur:
– Dieetvoorkeure;
– Hoeveel lede u departement na die vergadering gaan stuur;
– Departementslede se name en vanne

Indien u departement nie u eie reis- en of verblyfkoste kan dek nie, moet die inligting so spoedig moontlik deurgestuur word. Die ATR benodig die inligting vir begrotingsdoeleindes.

Kontak my gerus indien u enige verdere navrae in die verband het.

Met vriendelike groete,

Bibi Burger
bibi.burger@up.ac.za

Algemene Jaarvergadering, Saterdag, 28 Oktober

Die Internasionale Vereniging vir Afrikaans (IVA) se Algemene Jaarvergadering het op Saterdag, 28 Oktober by die Universiteit van Pretoria plaasgevind.
Verteenwoordigers van Afrikaansdepartemente regoor Suid-Afrika het die vergadering bygewoon om die IVA se doelwitte te bespreek, amptelike verteenwoordigers te verkies asook om die pad vorentoe uit te stippel.

Tydens die vergadering is die volgende lede tot die bestuur van die IVA verkies: dr Amanda Lourens (Universiteit Stellenbosch) as voorsitter van die IVA met dr Bibi Burger (Universiteit van Pretoria) as ondervoorsitter en Dewald Koen (Universiteit van Fort Hare) as bestuurder. Adean van Dyk (Sol Plaatje-Universiteit), Lynette Bester (Nelson Mandela-Universiteit) en Giselle Botha (Universiteit Stellenbosch) dien op die ondersteuningskomitee.

Die IVA in samewerking met die Afrikaanse Taalraad stel hom ten doel om Afrikaans op nasionale sowel as internasionale vlak te bevorder deur nouer samewerking tussen Afrikaansdepartemente by universiteite (asook universiteite van tegnologie en opvoedkundedepartemente). Die IVA-webblad is herontwerp en opgedateer en dien as platform waar dosente en studente belangrike inligting oor
Afrikaans kan bekom. Die webblad bevat ’n volledige databasis van dosente wat Afrikaanse taal- en/-of letterkunde (ook binne Opvoedkundefakulteite) nasionaal sowel as internasionaal onderrig. Studente wat Afrikaans as vak neem, kan die webblad raadpleeg vir beurse waarvoor hul kan aansoek doen. Dit sal ook belangrike skakels bevat na webblaaie wat vir die Afrikaansstudent nuttig kan wees. Die webblad gaan voortdurend uitgebrei word om die studie van Afrikaans op tersiêre vlak te bevorder.

Tydens die AJV is besluit dat almal wat Afrikaans nasionaal sowel as internasionaal onderrig outomaties lede van die IVA word. Dosente kan egter ook as amptelike lede registreer om tydens die jaarvergadering vir bestuurslede te kan stem.